IN HIERDIE UITGAWE - MAART 2011

Verbruikersbeskerming En Eiendom - Paniek En Risiko
 


Daardie Ewige Vermaning Om Nie Borg Te Teken Nie: Val Dit Op Dowe Ore?


Gee Terug Die Sambreel - Dit Reën



Stel Jou Versekeraars Sonder Versuim In Kennis Van Enige Moontlike Eis - Klein Of Nie!



Rapporteer Witboordjiemisdaad! Howe Raak Al Hoe Strenger


Maart Se Webwerf: Gratis Deel Van Lêers

 

                          VERBRUIKERSBESKERMING EN EIENDOM - PANIEK EN RISIKO

 

"Don't Panic!" (Douglas Adams, Hitchhiker's Guide to the Galaxy)

 

Die Wet op Verbruikersbeskerming ("die Wet") het oor die afgelope jare ongekende kommentaar ontlok en publisiteit verkry. Nou word dit 'n werklikheid wanneer dit aan die einde van Maart in geheel in werking tree.

 

Verkopers van eiendomme, verhuurders en eiendomsagente - jul eiendomstransaksies gaan onderhewig wees aan hierdie wetgewing, so vergewis jou van die inhoud daarvan en kom op hoogte met die relevante bepalings.

 

Indien jy nie aan die bepalings voldoen nie, is jy op risiko. Ooreenkomste wat in stryd met die bepalings van die Verbruikerswet is, kan ongeldig verklaar word. Administratiewe boetes en selfs strafregtelike vervolging kan jou voorland wees vir oortredings van hierdie wetgewing.

 

Verder bring die verbruikersbeskerming nuwe beperkinge en risiko's mee. In onlangse mediaberigte word gespekuleer dat die hele eiendomsbedryf dalk negatief geraak kan word deur die wetgewing; 'n ondertoon van paniekerigheid blyk uit hierdie beriggewing.

 

Dit is nie nodig vir paniek nie. Die risiko's bestaan ongetwyfeld, maar is hanteerbaar. Verkry leiding en advies indien jy dit nog nie gedoen het nie.

 

Die Wet op Verbruikersbeskerming sal nie op die volgende transaksies van toepasing wees nie:

 

Bestaande ooreenkomste word in wese nie deur die wetgewing geraak nie, behalwe dat: -

    i.Enige bestaande vastetermynooreenkoms wat nog op 31 Maart 2013 of daarna in werking is, sal gedeeltelik      onderhewig wees aan die wet.

  ii.Regsaanspreeklikheid vir enige bewese skade voortspruitend uit die verskaffing van defektiewe goedere is al      reeds van 4 April 2010 in werking.

 

 

 

Die Wet op Verbruikersbeskerming reguleer die verskaffing van goedere en dienste in die gewone loop van 'n verskaffer se sakebedrywighede. Dit is dus voorsienbaar dat die meerderheid van private of eenmalige eiendomstransaksies tussen individuele partye vrygestel sal wees van die bepalings van die wet. Eiendomsagente sal egter wel moet voldoen aan die wet wat hul koopooreenkomste, bemarkingspraktyke en verkoopsmandate aanbetref.

Nie alle deelnemers aan die handelsverkeer word beskerm nie. Die Wet het ten doel om die volgende verbruikers te beskerm:-

    i.Individue (natuurlike persone), en

   ii.Kleiner "regspersone" (maatskappye, korporasies, vennootskappe/trusts met bates of jaarlikse omsette onder      die neergelegde drempel - voorlopig is dit op R3 miljoen vasgestel).

 

 

Dit is te verstane dat veral verhuurders ongelukkig is met die bepaling dat langtermynhuurkontrakte nie vir langer as twee jaar gesluit kan word nie. Huurders sal voortaan geregtig wees om te enige tyd slegs 20 besigheidsdae kennis te gee van die kansellasie van hul ooreenkoms, onderhewig aan die heffing van 'n redelike kansellasieboete, tot 'n maksimum van 10% van die oorblywende kontrakwaarde. Die silwer randjie vir verhuurders is dat hierdie bepalings slegs vir individue geld, en glad nie op regspersone (soos omskryf) van toepassing is nie, ongeag hul omsets- of batewaarde.

Diegene wat tot nou toe uitgestel het - dit is nou tyd om op hoogte te kom met hierdie wetgewing. Jy moet bepaal watter risiko dit vir jou en jou besigheid inhou en hoe om hierdie risiko te bestuur.

 

Nota: Net 'n paar raakpunte word hierbo aangespreek. Verkry spesifieke advies vir jou spesifieke omstandighede.

 

 

 

DAARDIE EWIGE VERMANING OM NIE BORG TE TEKEN NIE: VAL DIT OP DOWE ORE?

 

'n Onlangse uitspraak van die Hoë Hof dui weer daarop hoe gevaarlik dit kan wees om borg te teken. Hier het 'n bank 'n substansiële vonnis verkry teen 'n party wat borg geteken het vir 'n beslote korporasie wat uiteindelik nie sy skulde kon betaal nie.

 

Gewoonlik klink dit mos heel veilig om borg vir 'n besigheid of vir 'n ander persoon te teken: "Teken net hier, dit is standaardbeleid..." en "almal doen dit." Weet net dat wanneer die hoofskuldenaar nie sy finansiële verpligtinge kan nakom nie, gaan die bank, waarskynlik via die balju, by jou kom aanklop vir betaling.

 

Hier het die borg sonder sukses twee verwere geopper:-

 

Sy kon haar nie beroep op die beskerming en bepalings van die Nasionale Kredietwet nie, want die aanvanklike skuldooreenkoms tussen die bank en die beslote korporasie was nie 'n "kredietooreenkoms" soos wat dit in die wet omskryf is nie. Regsentiteite word ook in 'n baie beperkte mate deur die Nasionale Kredietwet geraak.

Tweedens beroep sy haar daarop dat sy nie uitdruklik toestemming gegee het tot die verhoging van die beslote korporasie se lening by die bank nie. Die standaardbewoording van die bank se borgooreenkoms verbind haar tot die terugbetaling van enige som of somme geld wat regtens deur die korporasie verskuldig is, ongeag die skuldoorsaak. Die hof was beperk tot die uitleg van die woorde in die kontrak en kon dus nie afwyk van die ooreenkoms nie - hiervolgens was sy aanspreeklik en moes sy as borg betaal.

Indien jy geen ander keuse het nie en jy jou wel as borg moet verbind, verkry dan advies voordat jy teken. Sorg ook dat jy jou aanspreeklikheid so veel moontlik inperk - vir die tydsduur van jou aanspreeklikheid en ook vir die bedrag van jou borgskap.

 

 

 

GEE TERUG DIE SAMBREEL - DIT REËN

 

Die Nasionale Kredietwet het ten doel om verbruikers wat oorbelas is (en wat slagoffers van roekelose uitleenpraktyke mag wees) te beskerm. Die beskerming is teen kredietverskaffers wat hul aansprake wil afdwing, maar daar is omskrewe prosedures en vereistes waaraan voldoen moet word.

 

Waar dit egter duidelik is dat 'n verbruiker / skuldenaar slegs besig is om die onafwendbare uit te stel, is daar wel voorsiening gemaak vir 'n skuldeiser om die skuldberadingsproses ten einde te bring.

 

Die wet bepaal letterlik dat 'n aansoek vir skuldhersiening binne 60 besigheidsdae tot 'n hofbevel vir skuldhersiening moet vorder. Gebeur dit nie, is 'n skuldeiser by magte om kennis te gee van die beëindiging van die proses, al is die skuldhersieningsproses nog aan die gang.

 

Sommige skuldeisers gee gevolglik as 'n reël na dag 60 kennis van die beëindiging van die proses. Dit ten spyte daarvan dat 'n aansoek vir skuldhersiening reeds by die landdroshof ingedien is, hoewel die saak nog nie voor die landdros gedien het nie.

 

Om sake verder te vertroebel, was die Hoë Howe tot op hede nog nie konsekwent in hul hantering hiervan nie; sommige howe het die beëindiging van die skuldhersieningsproses erken, terwyl ander dit nie toegelaat het nie. In 'n onlangse uitspraak wat deur 'n volbank regters van die Hoë Hof, Wes - Kaap in Kaapstad gelewer is, is die volgende rigtinggewende bevindinge gemaak:

 

Wanneer 'n aansoek vir herstrukturering van 'n verbruiker wat oorbelas is, by die landdroshof ingedien word, word 'n geregtelike proses aan die gang gesit wat nie slegs deur die versending van 'n brief tussen private partye ongedaan gemaak kan word nie; Die hof vergelyk dit met die uitleen van 'n sambreel aan 'n oorbelaste verbruiker, met die sambreel wat dan op hardhandige wyse teruggeneem word sodra dit begin reën. Die effek sal dieselfde wees indien 'n skuldeiser by magte is om eensydiglik die verbruiker se beskerming op te roep, juis op die tydstip wanneer hy die beskerming van die skuldberadingsproses die nodigste het.

Die Hof beweeg in hierdie geval buite om die beperkende woorde van die wetgewing. Die hof wys die bank se aansoek vir die kansellering van 'n motor afbetalingsooreenkoms (en die teruggawe van die voertuig) van die hand en beveel dan dat die oorspronklike skuldhersieningsproses regtens sy verloop in die betrokke landdroshof moet neem.

 

 

 

STEL JOU VERSEKERAARS SONDER VERSUIM IN KENNIS VAN ENIGE MOONTLIKE EIS - KLEIN OF NIE!

 

Wanneer moet jy jou versekeraars in kennis stel van die moontlikheid van 'n eis teen jou?

 

Vir die meeste van ons is die versoeking daar om niks te doen nie, totdat 'n eis wel teen jou ingestel word. Veral as jy van mening is dat dit heel onwaarskynlik is dat 'n eis wel ingestel gaan word.

 

Dit kan jou duur te staan kom. In 'n onlangse geval in die Hoë Hof het 'n klant oor 'n elektriese koord in die betrokke winkel geval en het daardeur ernstige beserings opgedoen. Die klant het die winkel gedagvaar wat op hul beurt die blaam voor die deur van die gekontrakteerde skoonmakersdiens gelê het. Die skoonmakersdiens het hul hierna na hul versekeraars gewend en op hul versekeringsdekking vir openbare aanspreeklikheid gesteun.

 

Die Hof gee die versekeraars gelyk wanneer hulle die eis repudieer. Die skoonmakersdiens was reeds vanaf 2008 bewus van die insident, maar het dit eers in die jaar 2010 by hul versekeraars aangemeld, nadat die dagvaarding reeds op hulle beteken is. Hierdie optrede was in stryd met 'n standaardklousule in die versekeringsooreenkoms wat die versekerde verplig om so gou redelik moontlik kennis te gee van die ontstaan van enige moontlike eisoorsaak wat kan kom. Die hof bepaal dat so 'n insident dus so gou as wat omstandighede prakties toelaat, by die versekeraars aangemeld moet word. Die Hof sê verder dat hierdie 'n praktiese ondersoek behels wat van geval tot geval sal verskil.

 

Sodra jy besef dat dit moontlik is dat 'n eis as gevolg van 'n insident ingestel kan word, moet jy jou versekeraars dienooreenkomstig inlig. Selfs al is jy van mening (soos in hierdie geval) dat die kans dat 'n eis ingestel sal word, uiters skraal is.

 

Sou jy versuim om die insident by jou versekeraars aan te meld - bestaan die wesentlike risiko dat jy, soos hierdie gekontrakteerde skoonmakersdiens, alleen in die loopgraaf gaan eindig, wanneer die eis wel ingestel word.

 

 

 

RAPPORTEER WITBOORDJIEMISDAAD! HOWE RAAK AL HOE STRENGER

 

Witboordjiemisdaad (bedrog, vervalsing, korrupsie ensovoorts) word dikwels nie aangemeld nie. Die persepsie bestaan onder die publiek dat daar in elk geval nie streng teen sulke misdadigers opgetree sal word nie en dat hulle waarskynlik baie lig daarvan sal afkom.

 

Die tye is besig om te verander en ons howe neem al die afgelope paar jare 'n baie strenger houding teenoor kommersiële misdade in.

 

Die Hoogste Hof van Appèl het byvoorbeeld verlede jaar 'n vonnis van vier jaar effektiewe gevangenisstraf (met 'n verdere drie jaar wat voorwaardelik opgeskort is) bekragtig. Die skuldige was 'n finansiële adviseur wat deur die Hoë Hof aan ses klagtes van bedrog van sy kliënte se beleggingsgeld in die totale bedrag van R807 000 skuldig bevind is. Tydens bekragtiging het die Appèlhof die mening uitgespreek dat die vonnis eerder aan die ligter kant grens en ook bevestig dat direkte gevangenisstraf nie ongewoon vir witboordjiemisdaad is nie, selfs waar 'n eerste oortreder gevonnis moet word.

 

 

 

MAART SE WEBWERF: GRATIS DEEL VAN LÊERS

 

Dit word so gedoen: -

 

Lêers word aanlyn tussen rekenaars gesinchroniseer en sekerheidskopieë ("back-ups") kan gemaak word. Indien jy met meer as een rekenaar werk, kan jy die lêer op een rekenaar stoor, dit word dan outomaties ook op gekoppelde rekenaars gestoor terwyl jou aanlynweergawe ook outomaties bygewerk en opgedateer word. Jy kan dus op een plek op die betrokke lêer op een rekenaar begin werk en dan later op 'n ander perseel aangaan met die lêer op 'n ander gekoppelde rekenaar.

Jy kan lêers en foto's met vriende en kollegas deel (dit is veral handig waar die items te groot is om maklik per e-pos te versend)

Jy kan toegang tot die lêers op jou rekenaar verkry via 'n rondblaaier ("web browser")

Jy kan ook op mobiele wyse toegang tot jou lêers verkry via iPhone, iPad, BlackBerry of Android

Kyk gerus na Dropbox te www.dropbox.com, laai die gratis sagteware af en skep dan jou gratis rekening (jy kry 2 GB stoorspasie verniet).

 

Jy kan ook die lêers met jou ontvangers deel, ongeag of hulle ook Dropbox rekeninge het - volg die eenvoudige aanwysings om die toepaslike webskakel tot jou lêer aan jou ontvangers te stuur - die proses is vinnig en maklik aan beide kante.

 

 

NS : Is jy geregistreer om te stem?

 

Jy kan jou status as kieser op die Onafhanklike Verkiesingskommissie se webwerf nagaan te https://www.elections.org.za/. Die volgende kiesersregistrasienaweek is geskeduleer vir 5-6 Maart 2011.

 

 

Sukses in Maart! !